Goue muntstuk

'n Amerikaanse Gold Eagle

'n Goue muntstuk is 'n muntstuk wat grotendeels of heeltemal van goud gemaak is. In die moderne tyd is die meeste goue munte bedoel om óf verkoop te word aan versamelaars, óf gebruik te word as goudmunte – munte wat se nominale waarde irrelevant is en wat hoofsaaklik as 'n beleggingsmetode in goud dien.

Goud word vir baie redes as betaalmiddel gebruik. Dit is gelykgesteld (een ons goud het dieselfde waarde as 'n ander ons goud), met slegs 'n klein verskil tussen aankoop- en verkoopprys. Goud is ook maklik om vervoer, want dit het 'n hoë waarde-per-massa verhouding, in vergelyking met ander kommoditeite, soos silwer. Goud kan in kleiner eenhede verdeel word, sonder om sy waarde te verlaag; dit kan ook gesmelt word in blokke, en weer saamgestel word. Goud se digtheid is hoër as die meeste ander metale s'n, dus is dit baie moeilik om te vervals. Verder is goud uiters onreaktief, dus verdof of korrodeer dit nie met verloop van tyd nie.

Goue munte kom gewoonlik in 1 ons, 1/2 ons, 1/4 ons, 1/10 en 1/20 ons groottes. Die meeste lande het 'n ontwerp wat elke jaar konstant bly; ander (soos die Chinese Pandamunte en Suid-Afrikaanse Natura-reeks) wissel elke jaar. 'n 1/10 ons goudmunt is omtrent dieselfde grootte as 'n Amerikaanse sent, en 'n 1 ons goudmuntstuk ongeveer die grootte van 'n Amerikaanse halfdollar.

Die sukses van die Krugerrand het daartoe gelei dat ook ander goudproduserende lande hulle eie goue munte uitgereik het, waaronder die Kanadese Gold Maple Leaf (1979), die Australiese Nugget (1981) en die Amerikaanse Gold Eagle (1986).


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search